Vrystaatse kongres in hof gestuit

Vrystaatse kongres in hof gestuit

Die Vrystaatse provinsiale verkiesingskongres wat van Vrydag in Parys beplan is, is in sy spore gestuit deur ’n meerderheidsuitspraak van ’n volbank in die hooggeregshof in Bloemfontein.

In die uitspraak in die hooggeregshof is daar egter vir die “verloorders”, die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) van die ANC en die ANC, ’n gaping gelos. Hulle moet net voor Vrydag 29 algemene takvergaderings in vier streke in die provinsie op ’n wettige wyse volgens die grondwet van die party oorhou. Dan kan die kongres voortgaan.

Dié beslissing raak nie die provinsiale algemene raadsvergadering wat premier Ace Magashule Dinsdagmiddag inderhaas gehou het. Op dié vergadering het die Vrystaatse ANC sy steun aan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as kandidaat vir die presidentskap toegesê.

Blykbaar was die afgevaardigdes van die verskillende takke ook daar. Ook dié van die 29 takke wat luidens die hofbevele onreëlmatig aangewys is.

Dit laat weer ’n gaping aan die 26 ondersteuners van Cyril Ramaphosa wat die hofaansoek aangevra het. Hulle kan die beginsel van die hofbevel deurtrek en die besluit om Dlamini-Zuma te steun, nietig laat verklaar, sê ’n regsgeleerde.

In die meerderheidsuitspraak van regters Corné van Zyl en Abe Mathebula in die hooggeregshof is dié takvergaderings wat van Augustus tot November gehou is en ook die tweejaarlikse vergaderings waarop die takbesture verkies word, onreëlmatig, onwettig en strydig met die ANC-grondwet verklaar. Besluite daarop is ook nietig verklaar.

Daarom het die regters beslis dat indien die provinsiale kongres dié naweek in Parys gehou word, dit nietig sal wees. Die kongres mag nie gehou word as dié takvergaderings nie op ’n wettige wyse in ooreenstemming net die ANC-grondwet gehou word nie.

Regter Joe Mhlambi het in sy minderheidsuitspraak met die ander twee regters oor die takvergaderings saamgestem. Hy het net nie enigiets rakende die provinsiale kongres gesê nie.

Thabo Malgas van Moroka-prokureurs sê namens die ANC en die Vrystaatse PUK se regspan ’n besluit moet nog geneem word of daar by die appèlhof op ’n dringende grondslag aansoek om verlof om te appelleer gedoen gaan word. Indien dít toegestaan word, word die hooggeregshof se bevele voorlopig op ys geplaas.

Netwerk24 verneem die ANC is ook naarstiglik besig om die takvergadering in Mangaung (4), Gariep (2), Lejweleputswa (6) en Thabo Mofutsanyana (17) te reël.

Hanno Bekker het namens die regspan van die 26 aansoekers gesê hul kliënte is in die wolke en sien die bevele as ’n oorwinning van geregtigheid en bevestig dat daar in ’n demokrasie nie plek vir ongeregtigheid is nie.

Hy twyfel of die takke voor Vrydag die takvergaderings sal kan hou en ook of hulle verlof tot appèl in dié tyd sal kry.

Source: https://www.netwerk24.com/Nuus/Politiek/vrystaatse-kongres-in-hof-gestuit-20171129

  •  
  •  
  •  
  •  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *