Vrystaatse ANC gemaan: Kry jul huis in orde

Vrystaatse ANC gemaan: Kry jul huis in orde

Ernstige waarskuwing word in ’n prokureursbrief aan die Vrystaatse ANC op die vooraand van hul verkiesingskonferensie eerskomende Sondag gerig dat hulle die kongres liefs nie moet hou voordat hul huis in orde is nie.

’n Dringende aansoek om die tweedaagse konferensie in Parys te verbied, of ’n aansoek vroeg volgende week om die besluite wat daarop geneem is, nietig te laat verklaar, kan deur die ANC verwag word, skryf Hanno Bekker van Bekker-prokureurs in Bloemfontein aan die ANC se prokureurs.

Bekker is een van die opdraggewende prokureurs van 26 ondersteuners van die Cyril Ramaphosa-faksie wat reeds ’n verklarende bevel in die Vrystaatse hooggeregshof gekry het dat 29 afgelope takvergaderings van die ANC in die provinsie onreëlmatig was en weer gehou moet word voordat die provinsiale konferensie kan voortgaan.

Hy skryf ook sy kliënte sê in die tweede poging was daar weer talle onreëlmatighede en dinge het nie volgens die ANC se grondwet gebeur nie.

Kennis van dié vergaderings is nie betyds gegee nie en in sekere gevalle is lede selektief in kennis gestel sodat ’n sekere faksie uitgesluit word.

In Mangaung het een tak geweier om die takvergadering oor te hou en ’n ander een het sonder ’n kworum voortgegaan.

Ook vir die komende provinsiale konferensie is nie voldoende kennis gegee nie.

Oor die weiering van die Vrystaatse ANC om inligting oor die afgelope takvergaderings aan sy 26 kliënte beskikbaar te stel, skryf Bekker dit is soos ’n skulderkenning.

Sy kliënte is geregtig op die inligting om hulle tevrede te stel dat daar nie nog onreëlmatighede is nie.

Dieselfde geld vir die provinsiale uitvoerende komitee se weiering om ’n onderneming te gee om geen afgevaardigdes na die Vrystaatse en die nasionale konferensie op 16 Desember te stuur, voordat die 29 takvergaderings volgens die ANC-grondwet gehou is nie.

Daardeur minag hulle die hofbevel, skryf Bekker.

Source: https://www.netwerk24.com/Nuus/Politiek/vrystaatse-anc-gemaan-kry-jul-huis-in-orde-20171208

  •  
  •  
  •  
  •  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *