Cyril- en NDZ-faksies in VS mik weer hof toe

Cyril- en NDZ-faksies in VS mik weer hof toe

Die messe word weer geslyp vir ’n volgende ronde in die Vrystaatse hooggeregshof tussen die ANC se twee faksies in die Vrystaat wat onderskeidelik Cyril Ramaphosa en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as kandidate vir die land se presidentskap steun.

Dié keer is die Vrystaatse afgevaardigdes wat die ANC se nasionale verkiesingskongres op 16 Desember wil bywoon die teiken.

Uit ’n brief van Hanno Bekker van Bekker-prokureurs in Bloemfontein namens die Ramaphosa-ondersteuners aan die Moroka-prokureurs (wat die Dlamini-Zuma-ondersteuners verteenwoordig) blyk dit dat die hof gevra gaan word om al die Vrystaatse afgevaardigdes te verbied om die nasionale konferensie by te woon.

As dié hofaksie slaag, kan dit Dlamini-Zuma se kanse vir die ANC-leierskap op die nasionale konferensie ’n knou gee.

Die Vrystaatse ANC het reeds sy steun aan haar toegesê.

Die beoogde hofgeding volg op ’n bevel verlede week in die hooggeregshof waarin bevind is dat 29 takvergaderings van die ANC in vier streke in die Vrystaat onregmatig was en die besluite nietig is.

As gevolg daarvan is die ANC se provinsiale kongres van die afgelope naweek tot die komende naweek in Parys uitgestel in ’n poging om die onwettige vergaderings te herbelê en in ooreenstemming met die ANC-grondwet se voorskrifte te hou.

Luidens Bekker se brief word afgetekende bywoningsregisters geëis van elke algemene takvergadering wat nou in die Vrystaat gehou is om afgevaardigdes na die provinsiale en nasionale kongresse aan te wys. Verder word al die verslae oor die besluite wat op dié vergaderings geneem is, asook geouditeerde lidmaatskapslyste van al die takke van die ANC in die Vrystaat geëis.

Maandag teen die spertyd om 14:00 is nog geen antwoord van die provinsiale uitvoerende komitee van die ANC, of die nasionale ANC, of Moroka-prokureurs ontvang nie.

Source: https://www.netwerk24.com/Nuus/Politiek/cyril-en-ndz-faksies-in-vs-mik-weer-hof-toe-20171204

  •  
  •  
  •  
  •  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *