ANC-takvergaderings ‘onwettig en onreëlmatig’

ANC-takvergaderings ‘onwettig en onreëlmatig’

Die ANC Vroueliga (ANCVL) in die Vrystaat het gesê hulle het “met teleurstelling” kennis geneem van die uitspraak van die hooggeregshof in Bloemfontein dat 29 algemene takvergaderings onwettig en onreëlmatig gehou is.

Die hof het Woensdag uitspraak gelewer dat die ANC se provinsiale verkiesingskongres wat van 1 tot 3 Desember gehou sou word, nie gehou kan word nie tot dat dié takvergaderings weer op ‘n wettige manier gehou word, in lyn met die grondwet van die ANC. Die besluite wat dus vroeër tydens die 29 takvergaderings geneem is, is deur die hof nietig verklaar.

Die ANCVL het gesê hulle het tekens gesien dat die party dalk geïnfiltreer is deur fanatici “wat elke keer as hulle deur interne prosesse verslaan word, hof toe hardloop”.

Thandi Masiteng, die ANCVL se provinsiale sekretaris, het in ‘n verklaring gesê dié fanatici en hul “meesters” redeneer dat hul aksies geregverdig is. “Hulle bedoeling is egter nie om ‘n sterk, doeltreffende ANC te bou nie, maar eerder om alle interne prosesse van die ANC te laat misluk tot die voordeel van die teen-transformasie-meesters,” het Masiteng gesê.

Die ANCVL ondersteun Nkosazana Dlamini-Zuma as kandidaat om pres. Jacob Zuma by die party se verkiesingskonferensie volgende maand te vervang.

Dlamini-Zuma is die afgelope naweek deur die party se algemene provinsiale raad in die Vrystaat genomineer as presidensiële kandidaat, maar die hofuitspraak kniehalter nou dié nominasie. Ramaphosa en Dlamini-Zuma is die voorlopers in die stryd om ANC-president.

Die ANCVL in die Vrystaat het gesê die liga is steeds ‘n integrale deel van die ANC in die provinsie en sal met die provinsiale leierskap vergader om voorstelle te maak oor die pad vorentoe na aanleiding van die hofuitspraak.

Hanno Bekker, prokureur vir die 26 ANC-lede wat die saak voor die hof gebring het, het gesê daar moet sewe dae kennis gegee word voor daar ‘n algemene takvergadering gehou kan word.

Souce: https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/anc-takvergaderings-onwettig-en-onreelmatig/

  •  
  •  
  •  
  •  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *