ANC se VS-kongres dalk nietig verklaar

ANC se VS-kongres dalk nietig verklaar

Die ink op die notule van die ANC se Vrystaatse provinsiale kongres eerskomende Sondag en Maandag in Parys gaan skaars droog wees, dan kan die hooggeregshof in Bloemfontein die kongres en alle besluite daarop nietig verklaar.

Die 26 ondersteuners van Cyril Ramaphosa as nasionale leier van die ANC, wie se hofaansoek daarvoor verantwoordelik is dat dié kongres met ’n week uitgestel is, beplan vroeg in volgende week nog ’n aansoek in die hooggeregshof.

Hulle gaan waarskynlik ook vra dat die afgevaardigdes van die meer as 300 ANC-takke in die provinsie na die nasionale konferensie op 16 Desember verbied moet word om dit by te woon.

Hanno Bekker van Bekker-prokureurs in Bloemfontein (namens die 26) het Woensdag bevestig ’n hofaansoek vir vroeg in volgende week word beplan.

Die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) van die ANC onder leierskap van Ace Magashule en ook die nasionale ANC het deur hul prokureurs geweier om inligting oor die afgelope takvergaderings in die provinsie aan die 26 aansoekers bekend te maak. Hulle is glo nie daarop geregtig nie.

Hoewel Bekker geen verdere inligting oor die inhoud van die beoogde aansoek volgende week wou bekend maak nie, is dit duidelik uit sy brief waarin hy inligting oor die bywoningsregisters en geouditeerde lidmaatskapslyste van al die takke van die ANC in die Vrystaat geëis het, dat die hof gevra gaan word dat die provinsie se afgevaardigdes na die nasionale konferensie verbied moet word.

As dié hofaksie slaag, kan dit Nkosazana Dlamini-Zuma se kanse vir die ANC-leierskap op die nasionale konferensie ’n knou gee.

Die moontlikheid is sterk dat daar ook vir ’n verklarende bevel gevra sal word dat die Vrystaatse kongres nietig verklaar word.

Dit is duidelik dat die 26 aansoekers daarop steun dat daar onreëlmatighede in baie meer van die takvergaderings in die provinsie was as die 29 wat reeds deur die hooggeregshof as onregmatig verklaar is.

Boonop word die provinsiale kongres ook nie op dieselfde datums gehou as wat in Oktober deur ’n hofbevel gelas is nie. Die provinsiale bestuur van die ANC het nog nie vir die tersydestelling van dié bevel gevra nie.

Source: https://www.netwerk24.com/Nuus/Politiek/anc-se-vs-kongres-dalk-nietig-verklaar-20171206

  •  
  •  
  •  
  •  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *