Ace hof toe gevat oor hy steeds lyf ‘leier’ hou

Ace hof toe gevat oor hy steeds lyf ‘leier’ hou

Ace Magashule, premier van die Vrystaat en ook Vrystaatse provinsiale voorsitter van die ANC. Foto: Netwerk24

Ace Magashule, premier van die Vrystaat, moet ophou om voor te gee hy is steeds die wettig verkose leier van die ANC in die Vrystaat. Sy termyn het maande gelede reeds verstryk, sê lede van die ANC.

Stukke is in die Vrystaatse hooggeregshof uitgereik waarin die mandaat van Magashule as leier en sy provinsiale uitvoerende komitee (PUK) deur ANC-lede beveg word.

Hulle vra dat hul aansoek volgende Woensdag aangehoor word. Intussen is regsverteenwoordigers van ander ANC-lede besig met die opstel van nog só ’n aansoek.

Mncedisi Bokwa van Bloemfontein en Lonwabo Dyi van Bethulie vra die hof moet verklaar dat die hele PUK se termyn in Mei al verstryk het en dat die lede daarvan verbied moet word om hulself as lede van die PUK voor te doen.

Hanno Bekker van Bekker-prokureurs het bevestig dat hy dalk al voor die einde van die week namens ANC-lede met ’n byna soortgelyke aansoek hof toe gaan waarin gevra word dat die Vrystaatse PUK moet ontbind.

Hulle wil ook vra dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) ’n taakspan moet aanstel om die party in die Vrystaat tot sy provinsiale verkiesingskongres te lei.

Bokwa en Dyi sê in hul aansoek die ooreenkoms wat twee ander ANC-lede einde verlede week met die PUK oor die datums van 1 tot 3 Desember vir die Vrystaatse ANC-verkiesingskongres aangegaan het, is ook nietig.

Bokwa sê in sy hofverklaring Magashule en die “PUK” verontagsaam die ANC se grondwet.

Sover dit hulle aangaan, bestaan die PUK nie meer sedert Mei vanjaar nie en het dus nie die mandaat gehad om só ’n ooreenkoms met Selake Tladi van Steynsrus en Modise Tshopo van die Lejweleputswa-streek voor die deure van die hooggeregshof aan te gaan nie.

Dié ooreenkoms is deur regter Soma Naidoo ’n bevel van die hof gemaak.

Bokwa sê in sy hofverklaring Magashule en die “PUK” verontagsaam die ANC se grondwet en ook die regte van ANC-lede in die provinsie.

Hulle gaan skaamteloos en blatant voort om voor te gee dat hulle gemagtig is om as PUK op te tree.

Alles wat hulle doen, insluitend die reël van die provinsiale kongres, word met ongeldigheid beklee en sal nietig wees, sê hy.

Daniël Muller van Kramer Weihmann en Joubert is Bokwa en Dyi se prokureur.

Source: https://www.netwerk24.com/Nuus/Hof/ace-hof-toe-gevat-oor-hy-steeds-lyf-leier-hou-20171010

  •  
  •  
  •  
  •  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *