Aansoek teen ANC in Vrystaat kan Ramaphosa help

Aansoek teen ANC in Vrystaat kan Ramaphosa help

Ace Magashule en Thabo Manyoni in gelukkiger tye. Magashule is die huidige ANC-voorsitter in die Vrystaat en die premier. Hy is ’n belangrike pilaar in die Nkosazana Dlamini-Zuma-kamp. Manyoni, gewese burgemeester van die Mangaung-metro, veg om die nuwe voorsitter en premier in die Vrystaat te word en is in die Cyril Ramaphosa-kamp.

’n Groep ANC-lede gaan dié week ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Bloemfontein bring om die provinsiale verkiesingskonferensie van 1 tot 3 Desember in sy spore te stuit.

Indien die aansoek slaag, kan dit adj.pres. Cyril Ramaphosa se kanse om as die ANC-leier op die nasionale konferensie van 16 tot 20 Desember verkies te word dramaties versterk.

Dié aansoek kom te midde van die spanning wat in die ANC in die Vrystaat aan die opbou is. Die bloed het al gevloei op takvergaderings met nog net twee weke tyd vir ’n provinsiale konferensie om gehou te word.

As die Vrystaatse ANC se afvaardiging na die nasionale konferensie in Midrand gestuit word, is ’n belangrike blok stemme vir die Zuma-kamp weg.

Die deur staan dan oop vir Ramaphosa om pres. Jacob Zuma as die nuwe ANC-leier te vervang, en nie Zuma se gewese vrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, nie.

Die aansoekers gaan ook vra dat ’n provinsiale taakspan aangestel word om die takvergaderings weer te laat plaasvind.

Hanno Bekker van Hanno Bekker Prokureurs het aan Netwerk24 bevestig ’n groep van 25 Vrystaatse ANC-lede gaan die week die aansoek teen die provinsiale uitvoerende komitee van die party bring.

Die gronde vir die aansoek is dat die takvergaderings wat in die Vrystaat gehou is om afgevaardigdes vir die provinsiale en die nasionale konferensies aan te wys, beknoei is en dat daar beweerde grootskaalse omkopery plaasgevind het.

“Die bewering is dat die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) as hekwagters optree. Dus tree hulle teen hul eie grondwet en mense se belange op en kan die takke vra dat die nasionale uitvoerende komitee die PUK ontbind, omdat hulle buite hul mandaat optree.”

Die aansoekers gaan ook vra dat ’n provinsiale taakspan aangestel word om die takvergaderings weer te laat plaasvind.

Mahlomola Ralebisi, voormalige ANC-sekretaris in die Motheo-distrik en ’n ondersteuner van Thabo Manyoni, ondervoorsitter van die ANC in die Vrystaat wat mik om die nuwe premier te word, sê bloed het reeds op die ANC-takvergaderings in die provinsie gevloei en nog meer bloed kan vloei.

Ralebisi sê hy is ’n ondersteuner van Manyoni en is bewus van die dringende hofbevel wat vandeesweek in die hooggeregshof ingedien gaan word, alhoewel hy nie regstreeks daarby betrokke is nie.

“In Bethlehem is mense op ’n takvergadering geskiet wat hospitaal toe geneem moes word en in Wesselsbron is ’n klag by die polisiekantoor ingedien teen ’n ANC-burgemeester, Nkosinjani Speelman, wat na bewering iemand met ’n mes op die ANC-takvergadering gesteek het.”

Hy sê behalwe vir grootskaalse verdeeldheid tussen die twee ANC-kampe – dié van Ace Magashule, Vrystaatse premier en provinsiale voorsitter wat Dlamini-Zuma in die nasionale verkiesingstryd ondersteun, en die Manyoni-kamp, wat die Cyril Ramaphosa (CR17)-groepering steun – is die gort behoorlik gaar.

“Dit is in die CR17-kamp dat ANC-lede veral bitter ongelukkig is oor al die geknoeiery en beweerde omkopery op die ANC se takvergaderings.”

Ralebisi sê hy is ’n ondersteuner van Manyoni en is bewus van die dringende hofbevel wat vandeesweek in die hooggeregshof ingedien gaan word, alhoewel hy nie regstreeks daarby betrokke is nie.

Volgens die groep het die huidige PUK se termyn al in Mei vanjaar verval en moet dit ontbind word.

Source: https://www.netwerk24.com/Nuus/Politiek/aansoek-teen-anc-in-vrystaat-kan-ramaphosa-help-20171112

  •  
  •  
  •  
  •  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *